GAUTENG. – Drie verdagtes wat glo vandag (Donderdag) kort vantevore ‘n huis in Randburg beroof het, is in ‘n skietgeveg met die polisie op die N1-snelweg in Sandton dood. Nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem.
Lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het verskeie elektriese toestelle asook die slagoffer se VW Polo gesteel. Polisiebeamptes wat verbonde is aan die Gauteng-hoofwegpatrollie, saam met beamptes van die Gauteng Verkeer-lugvleuel en Cap Security, het na die verdagtes begin soek. Die voertuig waarmee hulle gery het en die gesteelde VW Polo is opgemerk is. Toe die polisie hulle op die N1 probeer stop het, het ‘n skietery ontstaan. Drie verdagtes is noodlottig gewond is. ‘n Vierde verdagte, wat die gesteelde VW Polo bestuur het, is in hegtenis geneem toe hy probeer het om uit die voertuig te spring.
Die polisie het twee vuurwapens en elektriese toestelle teruggevind wat vermoedelik in die huisroof gesteel is. Die verdagtes word verbind met ’n sindikaat wat na bewering huisrooftogte in die noordelike voorstede van Johannesburg pleeg. Hulle staan tereg op aanklagte wat poging tot moord, die besit van ongemagtigde vuurwapens, huisroof en die besit van vermeende gesteelde eiendom insluit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





