WES-KAAP. – Mlungisi Vincent Mbutu (37) van White City in Soweto, Bongani Zulu (36) van Rockville in Soweto en Zwelakhe Ngwenya (25) van Chiawelo in Soweto het vanoggend op aanklagte van ontvoering en afpersing in die Kaapstad-landdroshof verskyn.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die saak is tot 25 Junie vir borginligting uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding. Ntabazalila sê die staat kan moontlik, soos wat die ondersoek vorder, meer klagtes teen die verdagtes byvoeg.
Die verdagtes is verlede week in hegtenis geneem en ‘n ontvoerde slagoffer wat glo in hulle aanhouding was, is teruggevind.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Drie beweerde ontvoerders is op 14 en 15 Junie deur die Valke in hegtenis geneem terwyl ‘n ontvoerde slagoffer teruggevind is.
AO Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê die Valke het omstreeks 19:00 op 14 Junie inligting van ‘n ontvoering ontvang. ‘n Analise is saamgestel wat verdagtes met bankaktiwiteite en oorplasingspatrone by verskeie banke gekoppel het. Met die ondersoek is die polisiebeamptes na ‘n verdagte se selfoon wat in Woodstock aktief is, gelei. Toegang is tot ‘n perseel verkry waar ‘n slagoffer vasgebind in ‘n slaapkamer ontdek is. Die slagoffer is vir mediese ondersoek na ‘n hospitaal geneem. Twee verdagtes wat van die toneel wou vlug, is in hegtenis geneem. ‘n Derde verdagte wat agter in ‘n nabygeleë huis se erf weggekruip het, is op 15 Junie vasgetrek.
Die drie verdagtes sal na verwagting op 18 Junie op aanklag van ontvoering en afpersing in die Kaapstad-streekhof verskyn.
Intussen berig Mambo.online.com van ‘n voorval waar ‘n slagoffer deur ‘n afspraaktoep gelok, aangehou en beroof is. Die slagoffer, wie se ondervinding breedvoering beskryf word, word op die Facebook-blad van The Atlantic Seaboard Community Forum gevra om met owerhede in kontak te kom. Die verdagtes in sy saak kan moontlik dieselfde verdagtes wees wat op 18 Junie in hegtenis geneem is.
Nuusflits het die besonderhede soos wat dit geplaas is, aan AO Hani van die Valke verskaf.
Peter Flentov, die admin van die Facebook-blad, vra: “If the victim of this attack or anyone who knows the victim sees this post, please see the comments below and contact Woodstock police. The suspects MAY have been arrested.”
Mambo.online.com berig die slagoffer het hom vir geselskap na ‘n afspraaktoep gewend. Hy het met ‘n man kontak gemaak en hulle sou mekaar ontmoet. Die aanvanklike ontmoetingsplek is egter van ‘n koffiekroeg na ‘n nabygeleë woonstel verander. By die ingang van die woonstel is hy oorval, gewurg en die plek ingedwing. Hy is met skoenveters vasgebind, ontklee en verfilm, terwyl hy deurentyd met ‘n vuurwapen en mes gedreig is. Met gesigherkenning is toegang tot sy bankrekenings verkry. Een van die verdagtes kon daarin slaag om R3 000 uit die slagoffer se rekenings te onttrek. Daar is ook gedreig om hom te verkrag en om sy liggaamsdele te verkoop. Die slagoffer is uiteindelik met ‘n handdoek oor die kop gelos. Hy kon daarin slaag om homself los te wikkel en te ontsnap. ‘n Verkeersbeampte het glo geweier om hom te help en voorgestel hy moet die polisie bel. Sy suster het hom gekry, waarna hulle na Seepunt-polisiestasie toe is. Hier het ‘n kaptein hom glo na ‘n ander polisiestasie in Kaapstad verwys. Daar het hy ‘n verklaring afgelê en die sleutels van die eiendom ingehandig. Die verdagtes het glo 0selfs sy sosialemediaplatforms se wagwoorde verander. Toe hy op die Find My iPhone-funksie deur sy iCloud toegang wou verkry, was die funksie buite aksie gestel.
Vogens die berig het die polisie, soos die slagoffer vertel, nie dringendheid in die situasie gesien nie. Hulle het aan hom gesê dit sou weke neem om ‘n hofbevel te verkry om sy selfoon op te spoor.
In die plasing op die Facebook-blad word nog soortgelyke voorvalle vermeld.





