GAUTENG. – Bonga Neli’s Fernando (46), Pinis Joao Cata (43) en Antonio Moyanga (45) het op aanklagte van moord en inbraak in die Johannesburg-landdroshof voorgekom. Nog ‘n verdagte is doodgeskiet en twee is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die polisie het op 24 Maart inligting van verdagtes wat kerke teiken, ontvang en ‘n operasie is geloods. ‘n Minibus met ‘n groep verdagte mans is in Westdene aangetref. Hulle het op die polisie geskiet, wat teruggeskiet het. ‘n Jaagtog het gevolg, waartydens die bestuurder van die minibus beheer verloor het en in ‘n muur vasgery het. Twee verdagte insittendes het ontvlug. Van die ses ander verdagtes is een noodlottig gewond, twee beseer en vyf gearresteer.
Die saak is tot 28 Maart in die Roodepoort-landdroshof uitgestel.
Volgens Yusuf Abramjee van Crime Watch is inligting ontvang dat die verdagtes na bewering ‘n roof by ‘n kerk in Florida, aan die Wes-Rand, uitgevoer het. ‘n Voertuig met beweerde verdagtes wat vanaf Florida in die rigting van Sophiatown gery het, is opgemerk. Die verdagtes het weggejaag, waarna ‘n skietery ontstaan het en die minibus in ‘n heining vasgery het. Die polisie het op drie ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. Behalwe die geroofde items, wat duur klanktoerusting insluit, is ‘n voertuig ook gekonfiskeer. Die verdagtes word na bewering aan meer as 10 rooftogte en inbrake in die Oos-Rand, noordelike woongebiede en die Wes-Rand verbind.

Pics https://t.co/qzy7GCpG4w pic.twitter.com/WFfOUzFnWf
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) March 24, 2025
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





