Vermeende agtervolger van lughawegebruikers in hegtenis

Lees ook :

Foto: SAPD

GAUTENG. – ‘n Man (64) is Saterdagmiddag deur polisielede op OR Tambo Internasionale Lughawe (Ortia) in hegtenis geneem. Hy word glo verbind met 42 sake van gewapende roof op die roete na die lughawe. Verdere ondersoek sal bepaal hoe die vermeende reeksrower, ondanks sy uitgebreide kriminele geskiedenis, steeds op vrye voet was.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die verdagte is kort ná ’n beweerde gewapende roof vasgetrek. Drie senior polisielede van ’n Afrika-land was in ‘n e-huurmotor onderweg na die lughawe, toe hulle op die R24 naby die Barbara-afrit deur vier mans in ’n silwer Suzuki Swift voorgekeer is. Volgens Mathe het die mans hulle as polisiebeamptes voorgedoen en die drie slagoffers van kontant, horlosies en selfone beroof. Die voertuig, wat vermoedelik in verskeie rooftogte gebruik is, is later opgespoor en daar is op beslag gelê.

Tydens die ondersoek is bevind dat die verdagte glo met nog 42 sake verbind word, wat terugdateer tot 1998. Dit sluit aanklagte van gewapende roof, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, bedrog en die nabootsing van ’n polisiebeampte in. Drie ander verdagtes word steeds gesoek.

Die polisie glo die inhegtenisneming het ’n sindikaat wat by agtervolging en roof in die omgewing van die lughawe betrokke was, ’n groot knou toegedien. Die verdagte sal Dinsdag op aanklagte in die Kempton Park-landdroshof verskyn.

Hierdie betrokke rooftogte vind plaas wanneer ‘n slagoffer by die lughawe geïdentifiseer word, gevolg word en dan langs die pad of by ‘n woning beroof word.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief