MPUMALANGA. – Vermeende huisrowers is Sondagoggend omstreeks 02:45 in hegtenis geneem nadat hulle in ‘n skietery met die polisie betrokke was toe hulle planne gefnuik is. ‘n Verdagte is gewond.
Kapt. Magonseni Nkosi sê die polisie was besig met ‘n operasie toe ondersoek na ‘n beweerde huisroof opgevolg is. Polisielede het ‘n verdagte wit VW Polo sonder registrasieplate opgemerk. Daar is uit die motor op die polisie geskiet. Die polisielede het teruggeskiet, waarna drie verdagtes uit die voertuig gespring en in die bosse verdwyn het.
Die motor met nog verdagtes in het weggejaag, waarop die polisie gevolg het. Die voertuig is op ‘n perseel met ‘n verdagte met skietwonde aan sy bo- en onderlyf aangetref. ‘n Ander verdagte is gekry waar hy op dieselfde perseel met VW-sleutels by hom, weggekruip het.
“Terwyl die polisie nog op die tweede toneel gewerk het, het ‘n grys VW Jetta opgedaag. Toe die insittendes die polisie sien, het hulle uitgeklim en op die polisie losgebrand. Die polisie het teruggeskiet, waarna die verdagtes te voet van die toneel gevlug het.”
Nkosi sê twee vuurwapens is in die Polo gevind. ‘n Tas wat volgens vermoede in Julie met ‘n onbekende bedrag geld van ‘n slagoffer geroof is, is ook gekry.
“‘n Totaal van 28 doppe van ‘n R5-aanvalsgeweer en 10 doppe van ‘n 9 mm-pistool is op beide tonele gevind.”
Die voertuie en vuurwapens is vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
‘n Verdagte (30) het vandag in die Mbibane-landdroshof voorgekom, terwyl sy medebeskuldigde (38) onder polisiebewaking in ‘n hospitaal is. Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.








