LIMPOPO. – ‘n Verdagte wat glo Dinsdagoggend by ‘n plaaslike laerskool in Bloodriver naby Seshego betrap is waar hy besig was om in te breek, is deur ‘n veiligheidswag geskiet en gewond.
Kol. Malesela Ledwaba sê die veiligheidswag (56) het omstreeks 02:00 op die inbraak by die laerskool reageer en twee verdagtes by die skool aangetref. ‘n Verdagte kon daarin slaag om te vlug, maar die ander een (35) is aangekeer. Hy het na bewering arrestasie teengestaan en die veiligheidswag aangeval, waarop hy twee keer deur die veiligheidswag in die been geskiet is.
Die verdagte kry tans mediese behandeling onder polisiebewaking. Terwyl hy van sake-inbraak aangekla word, word die veiligheidswag vir poging tot moord aangekla.
Die inbraakverdagte sal na verwagting binnekort in die Seshego-landdroshof verskyn.
Omstandighede van die insident is deel van die voortdurende ondersoek.





