GAUTENG. – ‘n Vermeende verdagte is glo in die vroeë oggendure van 12 Desember in Nieuw Muckleneuk, Pretoria, deur die huiseienaar geskiet en gewond.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder van Tshwane, sê aan Nuusflits die verdagte is tydens ’n beweerde huisbraak omstreeks 01:30 geskiet en gewond. Volgens die Brooklyn-polisiekantoor het die huiseienaar teen 00:00 gaan slaap nadat al die deure en vensters gesluit was. Hy is deur ‘n veiligheidsbeampte wakker gemaak toe die alarm afgaan.
Hy het sy vuurwapen geneem om by sy ma se kamer ondersoek in te stel en het daarna buite gaan kyk. Volgens die polisieverslag het die huiseienaar klere en ander items op die grond gesien wat nie aan hom behoort het nie. Kort daarna het ‘n man uit die stoorkamer gekom. Die huiseienaar het ’n waarskuwingskoot geskiet, waarna die verdagte ’n voorwerp na hom gegooi het. ’n Tweede skoot is deur die klaer afgevuur, wat die verdagte in die agterstewe getref het. Die polisie is ontbied, waarna die verdagte onder polisiebewaking in ‘n hospitaal opgeneem is.
Old East Safety Forum sê in ‘n sosialemediaplasing vrywillige gemeenskapsreaksiepersoneel het op die toneel opgedaag en onmiddellik noodhulp aan die gewonde verdagte verleen. Reaksiebeamptes van verskeie veiligheidsmaatskappye het gehelp om die gebied te beveilig totdat Gauteng Emergency Medical Services (GEMS) die behandeling van die verdagte oorgeneem het.
Die forum sê die polisie ondersoek die voorval. Inwoners word aangemoedig om waaksaam te wees en enige verdagte bedrywigheid onmiddellik by die owerhede aan te meld. Rolspelers wat met hulp op die toneel ondersteun het, word bedank, insluitend Axon Security, CSI Security, Fidelity-ADT, Interactive Security en SAPD Brooklyn.





