Verslag toon herhaling in vroeë grade kan leerprestasie verbeter

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

SUID-AFRIKA. – Leerlinge wat gr. 1 of gr. 4 herhaal nadat hulle net onder die bevorderingsdrempel geval het, behaal later beduidend beter akademiese resultate as dié wat net-net bevorder word, volgens ’n nuwe studie deur Ros Clayton van die Universiteit Stellenbosch.

Die navorsing, wat data van bykans alle laerskoolleerlinge in ses provinsies ontleed, vergelyk leerders net onder en net bo die slaaggrens. Clayton sê hierdie metode toon dat herhaling self die verbeterings veroorsaak en nie ander agtergrondfaktore nie. Die bevindinge wys dat gr. 1-herhalers se huistaalpunte in daaropvolgende grade aansienlik hoër is, met verbeterings wat tot gr. 4 volgehou word. Soortgelyke patrone is in wiskunde en eerste addisionele taal bevind. Leerlinge wat gr. 4 herhaal, toon ook volgehoue akademiese verbetering tot gr. 7.

Clayton waarsku egter dat hoër herhalingsyfers nie sonder risiko’s is nie. Herhaling hou hoë koste vir die onderwysstelsel in en kan bydra tot groter klasgroottes en latere uitval.

Lees meer hier onder:

Nuwe verslag bevind dat herhaling in die vroeë grade aansienlike akademiese voordele inhou

  • Leerders wat net onder die bevorderingsdrempel in Graad 1 en Graad 4 val en dus moet herhaal, behaal later beduidend hoër punte as dié wat net-net deurkom.
  • Herhaling funksioneer as ’n belangrike vorm van remediëring, veral vir leerders wat sukkel met geletterdheid in hulle huistaal.
  • Gegewe Suid-Afrika se reeds hoë herhalingsyfers en die gepaardgaande koste, bly aanvullende remediërende benaderings, soos gestruktureerde pedagogie, belangrik.

Wat gebeur met die duisende leerders wat jaarliks Graad 1 en Graad 4 herhaal? En verbeter hulle akademiese prestasie ná hulle herhaal het werklik, of lê die voordeel van die vrees vir herhaling hoofsaaklik in die druk wat dit plaas op leerders om by te hou?

Dit is die vrae wat ondersoek word in ’n nuwe verslag deur Ros Clayton van die Universiteit Stellenbosch se Research on Socio-Economic Policy (RESEP)-groep.

Die studie, getiteld The impact of early grade repetition on test scores: Evidence from a regression discontinuity design in South Africa, maak gebruik van data van bykans alle laerskoolleerders in ses provinsies (Oos-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes). Die studie gebruik ’n metode bekend as regressie-diskontinuïteit, wat leerders net onder die bevorderingsdrempel  vergelyk met dié wat net-net slaag . “Omdat ons leerders kan vergelyk wat weerskante naby die bevorderingsgrens val, gee hierdie metode ons vertroue dat dit herhaling en nie ander agtergrondfaktore is nie wat die verskille in hulle latere prestasie veroorsaak,” sê Clayton.

Sterk en volgehoue verbeterings ná herhaling in Graad 1 en in Graad 4

Die bevindinge dui op groot en volgehoue verbeterings. Leerders wat Graad 1 herhaal se huistaalpunte styg met 18.3 persentasiepunte in Graad 2, met 9.5 punte in Graad 3 en 5.2 punte in Graad 4, vergeleke met dié wat net-net bevorder is en  ʼn jaar vroeër hierdie grade bereik het. Hoewel die onmiddellike winste oor tyd afneem, bly dit statisties betekenisvol tot en met Graad 4. Wiskunde en Eerste Addisionele Taal toon soortgelyke patrone.

Herhalers in Graad 4 toon ook sterk verbeterings ná hulle herhaal het: Huistaalpunte is sowat 11.1 persentasiepunte hoër wanneer hulle Graad 5 bereik, sowat 7.5 punte hoër in Graad 6 en 6.3 punte hoër in Graad 7 vir leerders net onder die drempel. Hoewel die aanvanklike hupstoot vir Graad 4-herhaling ietwat kleiner is as vir Graad 1’s, lei die volgehoue daaropvolgende winste tot soortgelyke algehele voordele.

Interpretasie: Groot effekte, maar nie sonder koste nie

“Die getuienis toon duidelik dat herhaling in die vroeë grade die beoogde verbeterings in leeruitkomste lewer vir leerders naby die bevorderingsdrempels. Dit is bemoedigend, veral in ’n stelsel waar na raming 8% tot 12% van die jaarlikse onderwysbegroting aan herhaling bestee word,” sê Clayton. “Dit is aansienlike effekte, twee tot vier keer soveel as die impak van sommige van die doeltreffendste geletterdheidsintervensies. Maar grootte alleen maak herhaling nie die beste of doeltreffendste opsie nie. ’n Reeks beproefde intervensies,  insluitend geteikende taalondersteuning en gestruktureerde pedagogieprogramme, kan betekenisvolle winste teen laer koste lewer en sonder ’n ekstra skooljaar.”

Verskille tussen seuns en meisies

Meisies blyk meer te baat by Graad 1-herhaling as seuns, in lyn met die algemene patroon van groeiende geslagsverskille tussen Graad 1 en Graad 4. “Herhaling in Graad 4 blyk ’n meer gelyke korttermyn-verbetering vir seuns en meisies te lewer. Maar teen Graad 6 en 7 verdwyn die voordele vinniger vir seuns en word vervang deur ’n toenemende voordeel vir meisies. Maar omdat meer seuns as meisies herhaal, help herhaling wel om die gemiddelde geslagsverskil te verklein.”

Waarskuwing: Hoër herhalingsyfers is nie noodwendig wenslik nie

Clayton waarsku dat hierdie bevindinge nie geïnterpreteer moet word as ’n pleidooi vir strenger toepassing van graadherhaling nie. “Klasse in die vroeë grade is reeds baie groot. Om herhalingsyfers te verhoog sonder om onderwyspersoneel uit te brei, kan die winste wat ons hier sien, ondermyn. Herhaling hou ook ’n risiko van hoër uitval in latere grade in. Dis ’n kwessie wat deeglike studie in die Suid-Afrikaanse konteks vereis.”

Ten spyte van die meetbare akademiese voordele moet die fiskale implikasies van herhaling in ag geneem word. “Vorige navorsing dui daarop dat herhaling na raming 8%-12% van die jaarlikse onderwysbegroting opneem, in 2025 sowat R28-40 miljard. Die voordele wat in hierdie studie gevind word, moet dus opgeweeg word teen aansienlike sisteemwye en individuele koste, soos vertraagde toetrede tot die arbeidsmark.”

Herhaling in later grade: ’n Ander prentjie

Clayton beklemtoon ook die behoefte om herhaling in latere grade beter te verstaan. “Hoewel vroeë herhaling duidelik akademies voordelig is vir leerders net onder die drempel, kan ons nie aanvaar dat dieselfde geld vir hoër grade nie. Herhaling in Graad 10, byvoorbeeld, raak ongeveer ’n kwart van die kohort, en internasionale bewyse dui daarop dat die opbrengste veel kleiner of selfs heeltemal afwesig kan wees. Dit is dus noodsaaklik om herhaling verskillend te evalueer oor die skoolloopbaan.”

Slot

“Herhaling in die vroeë grade kan werklik ’n verskil maak vir leerders wat net onder die bevorderingsdrempels val en hul latere uitkomste op ’n betekenisvolle en volgehoue wyse verbeter,” sê Clayton. “Terselfdertyd is dit nie die enigste opsie nie, en noukeurige oorweging van koste, doeltreffendheid en alternatiewe ondersteuningstrategieë is nodig om te verseker dat alle leerders die beste kans op sukses kry.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief