LIMPOPO. – David Netshilaphala (62), ‘n boer, het op 27 Februarie gevind drie van sy beeste is nie in sy beeskraal nie. Twee dae later is hy as vermis aangegee.
Lt.kol. Stephen Thakeng sê die boer is by die Saselamani-polisiekantoor as vermis aangemeld. Die gemeenskap het glo huise van beweerde verdagtes, wat hulle vermoed vir die boer se verdwyning verantwoordelik is, begin brand. In totaal is ses huise aan die brand gesteek, waarna ‘n lid van die gemeenskap gearresteer en vir brandstigting aangekla is.
Thakeng sê daar is deurentyd na die boer gesoek. Op 10 Maart is inligting van moontlike verdagtes deur boere aan die polisie gegee. Verdagtes het die polisie na die misdaadtoneel gelei, waar die liggaam, wat geglo is dié van die vermiste boer is, aangetref is. Die oorskot is deur naasbestaandes as dié van Netshilaphala uitgeken. Twee verdagtes van die Tiyani Magoro-woonbuurt in die Hlanganani-polisiëringsgebied is aan die moord gekoppel en gearresteer.
Hulle sal vandag op aanklagte van moord en veediefstal in die Malamulele-landdroshof voorkom. Enigiemand met relevante inligting om ‘n verdagte, wat nog op vrye voet is, aan te keer, kan die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Tshilande Nkangweleni, by 082 414 2989 bel.
“Inwoners word weereens ontmoedig om nie die reg in eie hande te neem nie. Die vinnige reaksie deur SAPD-lede wat na die werklike verdagtes van die moord en veediefstal gelei het, word geprys,” sê lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris.





