WISCONSIN, VSA. – Die oorskot van Elijah Vue (3) van Wisconsin, wat sedert 20 Februarie vermis was, is op 13 September deur die polisie geïdentifiseer nadat ‘n jagter dit op sy eiendom ontdek het. Die jagter het menslike oorskot opgemerk terwyl hy vir die takbokseisoen in die landelike gebied van Two Rivers, omring deur ‘n woud, voorberei het.
Elijah is die laaste keer op 20 Februarie by Jesse Vang (39), sy ma se kêrel, se huis gesien. Katrina Baur (31), die kleuter se ma, het hom op 12 Februarie by haar kêrel, afgelaai “sodat hy hom moes leer hoe om ‘n man te word.” Agt dae later het Vang Elijah as vermis aangemeld en beweer hulle het albei geslaap toe hy verdwyn het.
Daar is na hom gesoek, ook in die area waar sy oorskot later gevind is. Sy kombers is aanvanklik gevind, en later is sy oorskot sowat drie myl van Vang se huis opgespoor.
Baur en Vang is deur verskeie klagtes in die gesig gestaar. Baur is aangekla van kindermishandeling, terwyl Vang aangekla is van kriminele kinderverwaarlosing. Beide het onskuldig gepleit.
Die polisie se ondersoek na die omstandighede rondom Elijah se dood duur voort.
Baur wat in aanhouding is, se saak kom weer op 22 Oktober voor. Sy het ‘n verklaring deur haar prokureur gemaak dat sy oor die verlies van haar seun treur:
“Katrina Baur is devastated by the most recent news, identifying the remains found as Elijah. She had continued to have hope that her little boy would be found alive. At this time, she is mourning the loss of her son.”
Bronne: CNN, NBC Chicago, USA Today en CBS 58