GAUTENG. – Die gemeenskap van Florida is gekok ná die dood van die 11-jarige Jayden-Lee Meek, wat Dinsdagaand as vermis aangemeld is en Woensdagoggend met beserings op ’n trap in die kompleks waar hy woon, aangetref is. Hy is later in die hospitaal dood verklaar.
Kol. Mavela Masondo sê aan Nuusflits die seun is Dinsdag deur skoliervervoer buite die kompleks afgelaai, maar het nooit tuis opgedaag nie, waarna daar na hom gesoek is. Toe hy nie opgespoor kon word nie, is hy as vermis aangemeld en daar is die hele aand en nag intensief na hom gesoek – ook binne die kompleks.
Jayden-Lee se familie is Woensdagoggend vroeg ingelig dat hy op die trap in die kompleks gekry is. Hy is na ‘n hospitaal gehaas in die hoop dat hy steeds lewe, maar hy is met aankoms by die hospitaal dood verklaar.
‘n Span ervare speurders ondersoek die omstandighede van die seun se verdwyning en dood. Nog geen arrestasies is gemaak nie.
Volgens Women For Change was Jayden-Lee ontklee aangetref.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





