MPUMALANGA. – Kidvohid Koldsinukd (30) en Joldata Astost (33), Poolse toeriste wat deur veldwagters as vermis aangemeld is, is tydens ‘n grootskaalse soektog opgespoor nadat hulle langs ‘n rivier geslaap het.
Volgens lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, het veldwagters van MTPA (Mpumalanga Tourism and Parks Agency) Donderdag by die Dientjie-polisie aangemeld dat die twee vroue nie van die Belvedere-staproete teruggekeer het nie. Hulle het vroeër die oggend vir die roete in die Bourke’s Luck Potholes-omgewing bespreek, maar teen laat die aand was daar nog geen spoor van hulle nie. ‘n Soektog is omstreeks 18:30 begin, maar die span kon hulle nie voor donker opspoor nie en die soektog is die volgende oggend 07:00 hervat. Buiten die polisie, veldwagters en privaat rolspelers is ‘n privaat helikopter vir die soektog ingespan. Die vroue is later ongedeerd opgespoor nadat hulle aan die span verduidelik het dat hulle langs ’n rivier geslaap het.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die span vir hulle samewerking bedank. “Ons wil alle belanghebbendes bedank vir die eenheid wat hulle getoon het in die gesamentlike doel. Die feit dat hulle hul hulpbronne saamgesnoer het om die twee toeriste op te spoor, wys dat ons meer kan bereik wanneer ons saamwerk, selfs in die stryd teen misdaad.”





