GAUTENG. – Hester Flemming (52) en Cecilia Johanna Flemming (82), wat na ‘n plaasaanval vermis geraak het, se liggame is in ‘n oopgroefmyn in Eikenhof gekry.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services het die nuus bevestig: “Sedert die voorval op Saterdag 26 Oktober 2024 aangemeld is, het talle spanne van die SAPD, SSS, NCA, Gemeenskapsforums, GPF van omliggende gebiede, JMPD, veiligheidsmaatskappye, familie, vriende en gemeenskapslede onvermoeid gewerk om na die slagoffers te soek. Elke leidraad is opgevolg, met ontelbare ure wat aan die saak gewy is.”
Die grootskaalse soektog na die twee vroue wat Saterdag ‘n aanvang geneem het, het tot Maandag geduur.
Bollhuis sê die polisie se soek-en-reddingspan is tans op die toneel om die liggame uit die oopgroefmyn te haal.
“SSS betuig ons innige meegevoel en gebede gaan aan hulle familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”
Nuusflits het voorheen berig:
Mike Bolhuis sê die vroue is volgens vermoede tydens ‘n plaasaanval op die nag van 25 Oktober ná 22:00 in Caymenstraat, Alewynspoort, Eikenhof, aangeval en ontvoer. Die aanval het op die plaas langs die Eye of Africa Estate plaasgevind. Die verdagtes het glo toegang verkry deur ‘n heining te knip en ‘n veiligheidshek oop te breek. Die huis is geplunder en twee voertuie is gesteel. Een van die voertuie is vroeg Saterdag in Thokoza opgespoor. ‘n Metaalgroen Isuzu-dubbelkajuitbakkie met registrasienommer CB01WRGP is steeds vermis. Geen losprys is geëis nie.
Kol. Mavela Masondo sê Kliprivier-polisiestasie het sake van huisroof, ontvoering en die diefstal van ‘n motorvoertuig oopgemaak. ‘n Verdagte is gearresteer, nadat hy in ‘n informele nedersetting met items wat uit die huis van die slagoffers gebuit is, vasgetrek is. Die ander verdagtes word nog gesoek.