OOS-KAAP. – Die plaas waarop Hoër Landbouskool Marlow buite Cradock geleë is, is gedeeltelik onder kwarantyn geplaas, nadat simptome by vee waargeneem is wat met bek-en-klouseer ooreenstem.
Volgens ’n kennisgewing van die skool se boerderykomitee is die melkery tot verdere kennisgewing vir leerlinge en besoekers gesluit. Geen diere mag die plaas verlaat nie, terwyl volle biosekuriteit en ontsmettingsmaatreëls toegepas word. Staatsveeartse sou na verwagting reeds Maandag monsters neem om te bepaal of die siekte wel teenwoordig is. Die uitslae word binne sewe tot tien dae verwag. Die skool en koshuis funksioneer normaal, aangesien bek-en-klouseer nie na mense oorgedra word nie.
Vanaf Maandag is ’n ontsmettingstasie by Driefontein beskikbaar vir voertuie wat die Marlow-terrein verlaat. Die skool versoek persone om die stasie te gebruik voordat hulle die gebied verlaat. Die skool het gesê dit sal die gemeenskap op hoogte hou sodra die toetsuitslae ontvang word.
