LIMPOPO. – Westphal Gunter Hermann Friedrich (74) is Saterdag in die Northam-area aangerand en vermoor nadat hy glo vir ‘n ryloper ‘n geleentheid aangebied het. Drie verdagtes is daarna in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê Abstain Madvimdo (24), Jan Thabonga Moshabi (35) en Thomas Moyo (36), wat glo by die moord betrokke was, het vlugtig in die Northam-landdroshof verskyn.
Die saak is vir verdere ondersoek en ‘n formele borgaansoek tot 4 Maart uitgestel.
Al drie die verdagtes bly in aanhouding. Die polisie se ondersoek duur voort.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Die oorledene het Vrydag van Botswana na Suid-Afrika gery. In Lephalale (Ellisras) het hy glo vir ‘n ryloper ‘n saamrygeleentheid gegee. Die oorledene het glo oor akkommodasie in Noordwes uitgevra. Daar het na wat verneem word ‘n vriendskap tussen die oorledene en ryloper ontstaan, waarna die ryloper die oorledene se voertuig bestuur het.
Die ryloper het glo sy vriende ingelig van ‘n onbekende bedrag geld wat die toeris gaan ontvang.
Die drie verdagtes is na bewering saam met die toeris na akkommodasie waar hy vasgebind, aangerand en sy bank se pinkode geëis is. Hy is van geld en besittings beroof, waarna die voertuig se nommerplaat glo verwyder is. Daar is met die oorledene, wat aanhoudend aangerand is, tot op ‘n afgesonderde grondpad by ‘n sekere plaas in Northam gery. Daar is hy glo die bosse ingesleep en gelos.
Sekuriteitsbeamptes en ‘n lid van landelike veiligheid het die verdagte voertuig met die bestuurder opgemerk en ondersoek ingestel. Hulle het bloed op die verdagte se T-hemp gesien en die polisie in kennis gestel.
Met aankoms is die oorledene se liggaam gevind. Twee verdagtes wat die liggaam die bosse ingesleep en gevlug het, is later die aand met besittings van die oorledene in hulle besit in Noordwes in hegtenis geneem.





