VRYSTAAT. – Die Harrismith-polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om te help met inligting nadat die onherkenbare liggaam van ‘n persoon op die N3 naby die Enoyeni-gebied aangetref is nadat dit glo deur verskeie voertuie raakgery is. Die geslag van die persoon kon nog nie vasgestel word nie.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder AO Mmako Mophiring is die voorval omstreeks 03:00 by die polisie aangemeld. Dit word vermoed dat die liggaam deur verskeie voertuie raakgery is. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Enigiemand wat moontlik ’n familielid of bekende vermis het, word gevra om met die Harrismith-speurtak kontak te maak. Speur.kapt. Zwane kan by 060 976 4290 gebel word. Die polisie se ondersoek duur voort.





