NOORD-KAAP. – Die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (SAMRK) het ’n ondersoekverslag bekend gemaak wat wys dat dienslewering in verskeie munisipaliteite in die Noord-Kaap in ’n kommerwekkende toestand is. Die kommissie sê die verslag volg op talle klagtes van inwoners oor swak dienslewering en is saamgestel ná ’n deeglike ondersoek deur sy provinsiale kantoor.
Daar is bevind dat baie munisipaliteite gebuk gaan onder ernstige uitdagings soos swak finansiële bestuur, ’n tekort aan vaardighede, onvoldoende beplanning en ’n beperkte inkomstegrondslag. Gebrekkige kommunikasie met gemeenskappe dra verder by tot groeiende ontevredenheid. Die verslag toon ook dat toesig deur die provinsiale regering nie voldoende is om die probleme reg te stel nie. Geld word dikwels op korttermynoplossings bestee, eerder as om die oorsaak van diensleweringsprobleme aan te spreek. In sommige gevalle word duur watertenkwaens gebruik in plaas daarvan om volhoubare waterinfrastruktuur te ontwikkel. Nog ’n bekommernis is dat distriksmunisipaliteite, wat ’n belangrike ondersteuningsrol behoort te speel, nie ten volle benut word nie.
Verskeie aanbevelings is gemaak. Dit sluit in dat plaaslike munisipaliteite dringend moet optree teen onreëlmatige en vermorste besteding, en planne moet instel om infrastruktuur- en diensleweringsprobleme aan te pak. Samewerking met Eskom moet ook verbeter waar die kragvoorsiener verantwoordelik is vir elektrisiteitslewering. Die Nasionale Tesourie word aangeraai om alternatiewe maniere te ondersoek om munisipaliteite finansieel te ondersteun sonder om wanbestuur aan te moedig. Die provinsiale regering moet ook oorweeg om ingevolge die Grondwet in te gryp waar munisipaliteite disfunksioneel is, selfs tot die punt van ontbinding in uiterste gevalle.
Spesifieke optrede word onder meer aanbeveel in die Kai !Garib- plaaslike munisipaliteit, waar bewerings van bedrog ondersoek moet word, asook in die Sol Plaatjie- plaaslike munisipaliteit, waar ’n moontlike rampverklaring oor rioolprobleme oorweeg word.
Die kommissie waarsku dat soortgelyke probleme ook in ander provinsies voorkom en sê hy gaan sy monitering verskerp. Instansies wat nie aan aanbevelings voldoen nie, kan in die openbaar uitgewys word.







