OOS-KAAP. – AfriForum se privaatvervolgingseenheid oorweeg dit om Oscar Mabuyane, die premier van die provinsie, en ander hooggeplaastes in ‘n korrupsiesaak te vervolg.
Barry Bateman, kommunikasiehoof van die eenheid, sê die korrupsiesaak teen die premier en ander senior staatsamptenare beloop multimiljoenrande. Die eenheid tree op namens Lonwabo Bam, ‘n sakeman wat die voormalige direkteur van Mthombeni Projects is. Hy het gedurende April 2019 ‘n saak aanhangig gemaak en beweer die regering het hom betaal vir dienste wat hy nie gelewer het nie en is beveel om dié geld aan verskeie sake-ondernemings te betaal. R280 000 hiervan is glo in die ANC se fondsinsamelingsrekening oorbetaal.
Die NVG het geweier om vervolging in die saak in te stel, wat die privaatvervolgingseenheid se oorweging meegebring het. Die saak hou ook verband met vervoerreëlings vir die ontslape Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis.
Lees die volledige verklaring van die privaatvervolgingseenheid hier onder:
MEDIAVERKLARING: Privaatvervolgingseenheid stel sy visier op Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane
AfriForum se privaatvervolgingseenheid oorweeg om die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane en ander senior staatsamptenare in ’n multimiljoenrandse korrupsiesaak te vervolg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie vervolging in te stel nie. Die eenheid verteenwoordig Lonwabo Bam, die sakeman in die middel van ’n korrupsieskandaal, wat onregmatig fondse wat in sy onderneming se bankrekening inbetaal is, versprei het. Die saak hou onder meer verband met vervoerreëlings vir die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela.
Bam, die destydse direkteur van Mthombeni Projects, het die saak in April 2019 geopen waarin hy beweer het dat hy fondse van die provinsiale regering betaal is ondanks die feit dat hy geen dienste in ruil daarvoor gelewer het nie. Hy beweer hy is toe opdrag gegee om die fondse aan verskeie sakeondernemings uit te betaal. Hierdie bewerings en die feite rondom dit is sedert Oktober 2021 in die openbaar bekend, asook die onderwerp van talle media-ondersoeke.
Bam voer aan dat Babalo Madikizela, die Oos-Kaap se voormalige hoof van Openbare Werke, hom opdrag gegee het om ’n vervalste faktuur ten bedrae van R1,1 miljoen by Luvuyo Mahlaka, die munisipale bestuurder van Mbizana Plaaslike Munisipaliteit, in te dien. Nadat die fondse in sy besigheidsrekening verskyn het, beweer Bam dat hy verdere instruksies ontvang het om fondse aan verskeie ander rekeninge te betaal. Mabuyane het na bewering R450 000 ontvang wat hy gebruik het vir opknappingswerk aan sy private huis; Madikizela is glo R350 000 betaal via ’n onderneming wat deur sy vrou besit word; en R280 000 is in die ANC se geldinsamelingsrekening inbetaal.
In ’n skrywe aan die NVG sê advokaat Gerrie Nel, hoof van die eenheid, dat daar oorweldigende bewyse is en ’n saak vir vervolging gemaak kan word. “Ons deel nie die aanklaer se siening dat die bewyse nie enige strafregtelike vervolging regverdig nie. Ons kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die NVG se versuim om ’n besluit te neem meer gebaseer is op die politieke implikasies en gevolge van só ’n besluit, eerder as ’n plig om sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg nie.
“Dis ironies dat die NVG beskuldigdes kritiseer omdat hulle die Stalingrad-verdediging as ’n taktiek gebruik, terwyl die NVG alles moontlik doen om die vervolging van sake waar politieke invloede op die spel is, te vermy. Sodoende het die NVG nie daarin geslaag om die historiese en voortdurende kritiek te oorkom dat hy nie hom van sy tekortkoming kan losskud nie. Enige verwagting van wetsgehoorsame burgers om op die NVG te vertrou, bied geen hoop om die gety teen korrupsie en misdaad te draai nie,” sê Nel.
Die eenheid het die NVG aangemoedig om die aangeleentheid die nodige aandag te gee en enige vrese te besweer dat politici wat by ernstige korrupsie geïmpliseer word, teen vervolging beskerm word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com