KWAZULU-NATAL. – Vier verdagtes wat vir taxi-verwante moorde gesoek is, is Maandagmiddag tydens ‘n hoëspoedjaagtog en skietery deur die polisie in Mooirivier doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisielede was besig met ‘n intelligensiegedrewe operasie nadat ‘n wenk oor die verdagtes ontvang is.
“Die polisie het die verdagte voertuig op die N3 onderskep en vir die bestuurder beduie om te stop. Hy het weggejaag, Hidcote-afdraai geneem en by die R103 na Estcourt aangesluit. Tydens die hoëspoedjaagtog het verdagtes na die polisie begin skiet. Om hulself en ander padgebruikers te beskerm, het die polisie teruggeskiet en vier verdagtes wat in in die voertuig was, noodlottig gewond.”
Netshiunda sê ‘n geweer en ‘n pistool is in besit van die verdagtes gekry.
“Een van die verdagtes (40) is gesoek in verband met die Bergville-skietery in Februarie en Junie 202 op ‘n taxivereniging se voorsitter en sy adjunk. Hy is ook gesoek vir die Bergville-taxistaanplek-skietery waartydens ‘n taxi-eienaar geskiet is en ‘n pendelaar deur ‘n dwaalkoeël getref is, asook vir poging tot moord in Junie 2024 op ‘n taxi-eienaar van Winterton.”
Die vuurwapens sal aan ballistiese toetse onderwerp word om vas te stel of dit aan meer misdaadtonele gekoppel kan word.
“Alhoewel die polisievoertuig talle koeëlgate het, is geen polisiebeampte in die skietgeveg beseer nie.”





