MPUMALANGA. – Vier insittendes is Maandagoggend in ‘n ongeluk tussen ‘n bakkie en twee motors op die N4-tolpad tussen Karino en Nelsville, buite Mbombela, onherkenbaar verbrand.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van veiligheid, sekuriteit en skakeling, sê twee VW Polo’s was vanaf Karnina na Nelsville op pad toe een van die motors reg van voor met die bakkie gebots en die ander Polo in die ongeluk ingery het. Die oorledenes was insittendes van die Polo wat met die bakkie gebots het. Hulle het verbrand toe die motor aan die brand geslaan het. Die bestuurder van die bakkie het ernstige beserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal in Mbombela geneem.
Die ongeluk word ondersoek, maar Mmusi sê roekelose verbysteek kan nie in hierdie stadium uitgesluit word nie.