Vier mense dood in massaskietery in Bishop Lavis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Vier mense is Vrydagaand ná 19:00 in ‘n slaapkamer in Reënbergstraat, Bishop Lavis, doodgeskiet aangetref. Vier volwassenes, twee vroue en twee mans tussen 27 en 80 jaar oud, se lewens is met die skietery geëis.

Lt.kol. Malcolm Pojie, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits speurders van die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaadondersoeke, wat aan die teen-bende-eenheid verbonde is, is aangewys om die skietvoorval te ondersoek. Volgens voorlopige inligting het twee onbekende gewapende verdagtes, wat later in ’n VW Polo van die toneel gevlug het, die vier slagoffers in ’n slaapkamer oorval en op hulle geskiet. Al vier persone het skietwonde aan hulle bolywe opgedoen en het op die toneel gesterf.

Vier klagtes van moord word deur die Bishop Lavis-polisiekantoor ondersoek. Die motief vir die aanval maak deel uit van die voortgesette ondersoek. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

“Ons doen ’n beroep op enigiemand met inligting om dringend Crime Stop te kontak of die MySAPS- mobiele toepassing anoniem te gebruik,” het lt.kol. Malcolm Pojie gesê.

Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor die polisie, parlementslid en misdaadaktivis, sê met die polisie se aankoms op die toneel is die liggame van vier oorledenes, ’n 80-jarige vrou op ’n dubbelbed, ’n 44-jarige vrou op dieselfde dubbelbed, ’n 47-jarige man op ’n ander dubbelbed en ’n 37-jarige man op die vloer, aangetref. Al vier die slagoffers het meervoudige skietwonde, hoofsaaklik aan die kop, bors en bolyf, opgedoen. Die motief vir die aanval is vermoedelik bendeverwant.

Volgens Cameron dui die hantering en opvolg van die saak op swak koördinering. Die voorval beklemtoon voortdurende stelselmatige tekortkominge in die SAPD se hantering van bendegeweld in die Wes-Kaap, en beklemtoon die dringende behoefte aan professionele, intelligensie-gedrewe ondersoeke en voldoende befondsing van misdaadintelligensie- en speurdienste.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief