GAUTENG. – Vier verdagtes van ‘n beweerde sakeroof by ‘n drankwinkel in Kritzingerrylaan in Alberton is gister doodgeskiet.
Die Ekurhuleni-metropolisie sê in ‘n sosialemediaplasing beamptes was besig met patrollie toe inligting van die sakeroof ontvang is. Vyf verdagtes het glo in ‘n silwerkleurige Renault Triber van die toneel in ‘n noordelike rigting op die N3 en daarna in ‘n westelike rigting op die N12, onderweg na die Elands-wisselaar, gevlug.
Beamptes van EMPD, lede van die gemeenskapskakelingseenheid (CLU) en ander rolspelers is agterna. Die verdagtes het op die N12 Voortrekkerstraat op die polisie geskiet, waartydens teruggeskiet is. Vier verdagtes is noodlotig gewond. Nog ‘n verdagte wat ‘n skietwond in sy been opgedoen het, is later vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





