MOSSELBAAI, WES-KAAP. – ‘n Plaaslike visserman is Dinsdagaand omstreeks 22:15 by Beacon Wharf, naby Mosselbaaihawe, van verdrinking gered.
Johan Ehlers van NSRI in Mosselbaai sê ooggetuies het hulp ontbied nadat noodkrete gehoor is. Met aankoms op die toneel het paramedici ‘n man wat in vlak branders naby die rotse gevind is, behandel. Dit blyk asof hy op rotse gegly het terwyl hy visgevang het en deur branders in ‘n kanaal tussen rotse meegesleur is. NSRI se reddingswemmers het paramedici gehelp om hom op ‘n draagbaar te laai. Hy was in ‘n ernstige, maar stabiele toestand en het beserings en hipotermie opgedoen, waarvoor hy deur ‘n ambulans na ‘n hospitaal geneem is.
Mosselbaai se NSRI-reddingsvoertuig en reddingswemmers in hul privaat voertuie, By Grace-ambulansdienste, die polisie- en regeringsnooddienste, asook Mosselbaai se brand-en-reddingsdienste was by die redding betrokke. Ander rolspelers was op bystand.

