WES-KAAP. – ‘n 70-jarige man wat visgevang het, word deur reddingspanne gesoek nadat hy in die Voëlklip-omgewing by Heroldsbaai deur branders van rotse geslaan is.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê volgens Jonathan Britton, NSRI-stasiebevelvoerder van die Wildernis, is spanne van Wildernis en Mosselbaai Woensdagaand kort voor 21:00 geaktiveer toe die voorval aangemeld is. Reddingsbote is vinnig te water gelaat en reddingswemmers vir die soektog ontplooi. Verskeie nooddienste, insluitend die polisie, ambulansdienste en brandweer, is ook na die toneel. Met hul aankoms is ’n uitgebreide soektog van stapel gestuur nadat berig is dat die man tydens laagwater in die see beland het. Hommeltuie is gebruik om die gebied van bo af te deursoek, terwyl polisieduikers en reddingspanne die see en kuslyn gefynkam het.
Visvangtoerusting is in die water gekry, maar geen spoor van die hengelaar is nog gevind nie. Die soektog duur voort, met polisieduikers wat steeds betrokke is en lewensredders wat oor die Paasnaweek op die uitkyk sal wees.
Die NSRI het hul simpatie uitgespreek met die vermiste man se familie en vriende terwyl die soektog voortgaan.





