OOS-KAAP. – Die polisie ondersoek verskeie moorde in Walmer, Gqeberha, nadat ‘n aantal mense op 14, 15 en 16 Desember daar doodgeskiet is.
Polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, sê in ‘n verklaring ‘n man (39) is op 14 Desember ná 21:00, met verskeie skietwonde aan sy bolyf, dood in Mankazanastraat aangetref. ‘n Moordsaak is geopen.
Op 15 Desember, omstreeks 02:00, is drie liggame – ‘n man (37) en twee vroue, 28 en 27 jaar oud – met soortgelyke skietwonde in Ndlovustraat, Airport Valley, waar hulle in ‘n straat gelê het, gevind. Die Walmer-polisie ondersoek ‘n moordsaak met drie aanklagte. Enigiemand met relevante inligting word gevra om speur.lt.kol. Sithole by 082 457 2812 te bel.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê in ‘n verlaring vier mense is op 16 Desember omstreeks 17:30 in Goniwestraat en agter Sakhasonke in Walmer doodgeskiet. Luidens polisieverslae het verdagtes glo die perseel binnegegaan en selfone geëis voordat hulle op die inwoners geskiet het. Twee mans, 24 en 29 jaar oud, is op die toneel dood, terwyl twee ander mans van 22 jaar ook in G-West op kort afstand doodgeskiet is. Die verdagtes het drie selfone gebuit. Met die polisie se aankoms op die toneel is op hulle geskiet. Die polisie het teruggeskiet, maar niemand is beseer nie.
‘n Saak van poging tot moord is teen die polisie geopen en word deur Opod ondersoek.





