MPUMALANGA. – ’n Toyota Hilux ter waarde van R270 000 wat op 28 Maart 2018 gekonfiskeer is nadat heroïen ter waarde van R4,5 miljoen in ‘n versteekte kompartement gevind is, is aan die staat verbeurd verklaar.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê luidens ‘n verklaring die batebeslagleggingseenheid het Woensdag die verbeurdverklaring in die Mbombela-hooggeregshof bekom. Die voertuig is op die N4 na die Nkomazi-tolhek in die rigting van Nelspruit onderskep nadat die polisie inligting ontvang het. Daar was twee insittendes in die voertuig – die bestuurder, ’n Malawiër en ‘n Suid-Afrikaner. Albei is in hegrtenis geneem en later op borgtog vrygelaat. Die Malawiese burger het sedertdien gevlug en die saak teen die Suid-Afrikaanse burger is voorlopig hangende die herinhegtenisneming van sy medepligtige teruggetrek.
’n Ondersoek na die eienaar van die voertuig het gelei na ’n adres wat nie bestaan nie. Die voertuig is egter in die naam van ’n Pakistanse burger geregistreer. Die Valke sal die strafregtelike ondersoek voortsit. Brig. Danie Hall, die Valke se waarnemende provinsiale hoof, het gesê: “Bates wat deur misdaad verkry is, sal aan die staat verbeur word.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





