MPUMALANGA. – ‘n Voertuig wat van Hectorspruit na Komatipoort gery het, het Sondagoggend voetgangers op die N4-tolpad getref. ‘n Man en ‘n vrou wat van Tenbosch na Komatipoort gestap het, is noodlottig getref.
Moeti Mmusi, die woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die man en vrou het met impak gesterf, terwyl ses ander voetgangers vir behandeling van ernstige beserings in die Tonga-hospitaal opgeneem is. Daar word na die bestuurder van die voertuig, wat nie op die toneel stilgehou het nie, gesoek.
Mmusi sê daar word vermoed die agt voetgangers was van Mosambiek afkomstig. Die ondersoek duur voort.
Voetgangers wat op paaie loop, word gemaan om versigtig te wees, veral as hulle in die nag stap. Hulle moet sigbaar wees, nie drink en stap nie en ook nie die pad kruis waar dit nie wettig of veilig is nie.
Motoriste word op hulle beurt gemaan om op die uitkyk vir voetgangers te wees. Indien ‘n motoris in ‘n ongeluk betrokke is, moet hulle volgens wet optree en stilhou. Die ongeluk moet by die naaste polisiestasie aangemeld word.