MPUMALANGA. – Voertuigeienaars in dié provinsie het nou die geleentheid om agterstallige lisensiefooie af te betaal deur aansoek daarvoor te doen.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê voertuigeienaars wat die staat geld skuld, kan dit nou in paaiemente vereffen.
In sommige gevalle is voertuie steeds op die eNatis-sisteem geregistreer, maar is afgeskryf, oud en nie langer in gebruik nie.
“Ingevolge die wet is hierdie voertuigeienaars steeds aanspreeklik vir betalings totdat sodanige voertuie gederegistreer is. Die nie-deregistrasie lei tot die ophoop van boetes as gevolg van uitstaande geld. Lede van die publiek moet hul voertuie deregistreer sodra hulle nie meer in gebruik is nie. Dit is in hierdie konteks dat die departement diegene met uitstaande fooie versoek om na vore te kom en reëlings te tref.”
Mmusi sê hierdie situasie raak individue, sowel as maatskappye wat die staat reeds miljoene rande skuld. Wanneer hernuwingsfooie nie betaal kan word nie, word boetes en rente maandeliks gehef. Indien dié uitstaande fooie nie betaal kan word nie, word motoriste in skuld gedompel. Die departement is bewus daarvan dat dit moeilik is om te betaal as die fooie ophoop en het daarom besluit om diegene met sulke skuld die kans te gee om die betaling in paaiemente te doen.
“Met hierdie uitstaande skuld word ‘n administratiewe merk op die stelsel genereer, en dit sal die aansoeker blokkeer om óf aansoek te doen om ‘n bestuurslisensie te hernu óf ‘n ander voertuig te hernu of te registreer.”
Motoriste wat voertuie deregistreer, word ook herinner om by hulle versekeringsmaatskappye seker te maak of die voertuie wel van hulle naam gehaal is.
Om reëlings vir afbetaling te tref, kan voertuigeienaars van Maandag tot Vrydag tussen 07:45 en 16:15 die nommer 013 766 1542 bel.