Brekende Nuus
Afrikaans

‘Voertuigsmokkelaars’ vasgetrek, 20 voertuie voor Mosambiek gekeer

Foto's: SAPD
Foto's: SAPD

KWAZULU-NATAL. – Vyf vermeende voertuigsmokkelaars is gedurende die afgelope paar weke in hegtenis geneem en altesaam 20 voertuie is teruggevind deur ‘n taakspan wat in Eanguzi ontplooi is om oorgrensmisdaad in die noorde van KwaZulu-Natal te bekamp. Die polisie vermoed die 20 voertuie was bedoel om die grens by Kosibaai oor te steek.

Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits beslag is tydens verskeie intelligensie-gedrewe operasies op 11 bakkies, sewe nutsvoertuie (SUV’s), ’n minibus en ’n sedan gelê. Ondersoeke het aan die lig gebring die voertuie is in en om Durban-Sentraal, Durban-Noord, Westville, Chatsworth, Pinetown en Umhlali gesteel.

Die taakspan het Maandag inligting ontvang oor ’n voertuig wat vermoedelik op pad was om die Kosibaai-grens oor te steek. Die voertuig is suksesvol onderskep en een verdagte is in hegtenis geneem met verskeie vervalste dokumente in sy besit. Voorlopige ondersoek in die saak dui daarop dat die verdagte moontlik aan versekeringbedrog met voertuie gekoppel kan word. Die ondersoek duur voort.

’n Nasionale onderneming is van stapel gestuur met lede van die SAPD uit verskeie afdelings, onder meer misdaadintelligensie, proaktiewe en reaktiewe eenhede, asook speurders, om grensmisdaad langs die noordelike grens van KZN te voorkom en te bekamp.

Die geïdentifiseerde grensmisdade sluit onder andere die diefstal van motorvoertuie, huisrooftogte, sakerooftogte, kapings, moord en poging tot moord in.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]