Vonnis vir moord teen voormalige polisiebeamptes uitgestel

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

“”Hy was gekant teen die apartheidsbeleid, wat hy in die openbaar uitgedaag het.”

GAUTENG. – Nadat voormalige polisiebeampte Johan Marais (65) skuldig gepleit het en skuldig bevind is aan die moord op Caiphus Nyoka op 24 August 1987, is die sielkundige verslag steeds nie reg nie en is die aangeleentheid tot 25 Maart uitgestel. Nog drie voormalige polisiebeamptes is aangekla.

Lumka Mahanjana sê die NVG het ‘n skuldigbevinding in die aangeleentheid, wat voor die Kommissie vir Waarheid en Versoening gedien het, verseker en die saak sou Maandag vir vonnisverrigtinge in die hof voorkom, waarna dit uitgestel is.

Op die aand van 23 Augustus 1987 het Marais en lede van die veiligheidstak en ander eenhede van die polisie beplan hoe Nyoka doodgemaak gaan word. Mahanjana sê ‘n plan is beraam om onder die bevel van voormalige maj. Leon Louis van den Berg, wat ook apart aangekla is, ‘n klopjag op Nyoka se huis uit te voer. Die volgende oggend, omstreeks 02:30, het Marais, saam met sers. Pieter Stander, sers. Abram Hercules Engelbrecht en nog ander lede, Nyoka se huis bestorm. Hy en drie vriende het geslaap en nadat hy geïdentifiseer is, is hy na buite geneem en nege keer geskiet. Nyoka het aan die skietwonde gesterf.

Nadat Marais se pleit van skuldig in die rekord ingelees is, is hy op R5 000 borg vrygelaat, op voorwaarde dat hy nie met die ander staatsgetuies inmeng nie en ook nie met die ander drie beskuldigdes kommunikeer nie. Hy is ook beveel om nie die Springs-area te verlaat sonder om die ondersoekbeampte in te lig nie en moes ook sy paspoort inhandig en nie weer vir ‘n nuwe aansoek doen nie. Die saak is tot Maandag vir ‘n sielkundige verslag uitgestel, waarna dit weer om dié rede uitgestel is.

Van den Berg, Stander en Engelbrecht se verhoor het einde verlede jaar in die hooggeregshof in Benoni begin.

Die NVG is tevrede met die skuldigbevinding: “Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwelkom hierdie skuldigbevinding, wat die verbintenis weerspieël om aanspreeklikheid te verseker vir gruwelike misdade wat deur die WVK na die NVG verwys is. WVK-aangeleenthede, in hul aard en weens die baie lang tydsverloop, verbrokkeling van getuienis en gebrek aan beskikbaarheid van kritiese getuies, is baie moeilik om te ondersoek en te vervolg. Die gesamentlike WVK-span, wat ​​uit toegewyde ondersoekers van die DPCI en aanklaers bestaan, sal voortgaan om die verdienstelike stryd teen die apartheidsverwante gruweldade te veg en geregtigheid in die samelewing te bring. Hierdie skuldigbevinding is dus ‘n beduidende en impakvolle uitkoms, nie net vir die Staat en die samelewing nie, maar bowenal vir die slagoffer se families. Dit bring ‘n belangrike sin van geregtigheid en afsluiting, wat van onskatbare waarde is.”

Kol. Katlego Mogale van die Valke het op 13 November 2024 in ‘n verklaring gesê: “Die saak is voorheen as geregverdig tydens ‘n geregtelike doodsondersoek verhoor, maar het in 2019 weer opgeduik toe ‘n verslag bevele onthul het om Nyoka te vermoor.”

Na ‘n behoorlike ondersoek deur die ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdade teen die staat (CATS) is die voormalige polisiebeamptes van onder meer Benoni-veiligheidstak en die Reaksie-eenheid 6 in Dunnottar gearresteer. Hulle is van sameswering om ‘n moord te pleeg, moord en regsverydeling aangekla, waarna hulle verhoor begin het. Stander is verlede jaar op 5 April op OR Tambo Internasionale Lughawe, toe hy die land binnekom, gearresteer. Hy het op 12 April in die Benoni-landdroshof voorgekom en is saam met die ander beskuldigdes op die klagstaat gevoeg.

Mogale sê Marais het op 12 November 2024 skuldig gepleit, waarna hy skuldig bevind is en die saak vir vonnisoplegging tot 27 Januarie 2025 uitgestel is.

Caiphuys Nyoka was ‘n student en ‘n aktivis van COSAS (Congress of South African Students), asook die organiseerder van SAYVCO (South African Youth Congress) van TRASCO (Transvaal Student Congress) aan die Oos-Rand en die SRC-president (Student Representative Council) van Hoërskool Mabuya.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief