Vonnis vir pa wat ma doodsteek wat dogter beskerm

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Nolene Jones het op 19 Junie 2022 gesterf toe haar gewese maat en die pa van hulle dogters haar by hulle huis op Knysna met ‘n ‘n mes in die nek gesteek het.

Jones, wat ‘n beskermingsbevel teen Petrus Maritz gehad het, wou keer dat hul dogter gesteek word en is toe self doodgesteek.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Jones en Maritz was in ‘n verhouding van 27 jaar en het twee dogters, Celine en Octavia, gehad. Hulle verhouding was met gesinsgeweld deurspek. ‘n Beskermingsbevel wat moes keer dat Maritz vir Jones aanrand, is in April 2022 gefinaliseer. Maritz het aan die hof vertel hulle het steeds saam gebly, alhoewel hulle nie ‘n paartjie was nie en by ander partye betrokke was.

Op die betrokke tydstip was almal, insluitend Octavia se kêrel, by die huis. Maritz, wat ‘n vriend besoek en alkohol gedrink het, het tuisgekom. Celine het op die bed gesit en hy het vir hulle gesê hy wil slaap. Vir Jones het hy gesê om by die dogters te gaan slaap. Sy het egter geweier en is van die bed af gestamp. Jones het vir Celine geroep en gesê Maritz het haar geslaan. Celine het ingekom en met Maritz, wat besig was om te was, baklei.

Ntabazalila sê die bakleiery is gestop, waarna Maritz ‘n kombuismes, met die intensie om Celine te steek, gevat het. Jones het tussen haar eks en dogter ingetree en is in die nek gesteek.

Maritz het gesê hy was ten tyde van die moord kwaad en dinge het vinnig gebeur, hy wou nie sy dogter of vir Jones aanrand nie. Hy was berouvol en het sy prokureur gevra om namens hom skuldig te pleit. Hy het gesê hy wens hy kon die tyd terugdraai omdat hy elke dag sy aksies berou en dit nie sy intensie was om haar te vermoor nie.

‘n Proefbeampte het aan die hof voorgehou Maritz is ‘n gevaar vir die publiek en dat hy ‘n beskermingsbevel oortree het terwyl hy geweet het hy mag nie vir Jones aanrand nie. Met vorige veroordelinge is aangeteken Maritz het ‘n kort humeur en hy raak gewelddadig. Selfs sy dogters het direkte tronkstraf voorgestel.

Candice Simon, die staatsaanklaer, het redeneer die dogters het beide ouers deur Maritz se optrede verloor. Hy het ook ‘n 4-jarige kind in sy nuwe verhouding. ‘n 10 jaar lange geskiedenis van gesinsgeweld is in ‘n verslag aangedui. Maritz het glo geen verhouding met sy dogters gehad nie en hulle wil ook niks met hom te doen hê nie.

Nadat Maritz skuldig gepleit het, het die Knysna-streekshof hom tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Die staat het vir die hof gevra om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te wyk nie. Die hof het egter afgewyk en ‘n vonnis van 12 jaar opgelê.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App