KWAZULU-NATAL. – Analidia Dias Bella Dosantos (44) en Charmaine Khumalo (48) is deur die Durban-hooggeregshof gevonnis vir die moord op Mark Buttle wat met Dosantos getroud was.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Buttle is in Februarie 2018 in Newlands-Oos vermoor. Teagen Brown, nog ‘n beskuldigde, het voor die verhoor gesterf.
Tydens Buttle en Dosantos se huwelik is lewenspolisse uitgeneem waarvan Dosantos die begunstigde was. Sy was bewus van een van die polisse.
Nadat huweliksprobleme ontstaan het, het Dosantos by Brown ingetrek en ‘n buite-egtelike verhouding aangeknoop. Die moord op Buttle is beplan sodat daar van die lewenspolis geëis kon word. Die vroue het Khumalo, ‘n buurvrou, se hulp met die moord ingeroep.
Ramkisson-Kara sê op die dag van die moord het Buttle vir Dosantos ontmoet onder voorwendsel om hulle huwelik te hervat. Nadat die paar wyn gedrink en seksuele omgang gehad het, is Buttle 53 keer gesteek. Dosantos het gesê sy en Buttle is gekaap, maar die polisie het boodskappe oor die beplanning van die moord opgespoor. Die vroue is daarna in hegtenis geneem.
In ‘n slagofferimpak-verklaring het Buttle se pa gesê dit is ‘n tragedie om sy volwasse kind te verloor en gesê sy vrou se gesondheid het agteruitgegaan.
Dosantos is lewenslank vir moord en nog 5 jaar vir regsverydeling gevonnis. Khumalo, wat nie die meesterbrein van die misdaad was nie en saam met die polisie gewerk het, is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.





