GAUTENG. – Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba, beide voormalige werknemers van Clover, is in die Johannesburg-hooggeregshof aan die moord op Terence Tegg en JJ Cassanga skuldig bevind.
Barry Bateman van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê in ‘n verklaring die eenheid het Tegg se verloofde en die Cassanga-familie verteenwoordig. Die saak is vir vonnisoplegging tot Woensdag 16 Oktober uitgestel.
“AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nou saam met die polisie en die aanklaer gewerk om bewyse te versamel, dossiere op te stel en die saak aan die hof voor te hou.”
Op die betrokke dag van 17 Februarie 2022 het Clover-werknemers wat gestaak het, geweld gebruik en verskeie veiligheidswagte van Clover in Olifantsfontein aangeval. Tegg het dieselfde dag gesterf en Cassanga in Junie 2022.
“Ontstellende beeldmateriaal wys hoe die groep stakers Tegg omsingel, skop en slaan tot hy op die grond lê, waarna klippe en ander items gebruik is om sy kop inmekaar te slaan. Die aanvallers het hom toe van sy beursie, haelgeweer en ammunisie beroof. Cassanga is gejaag en oorweldig, sy kop is ingeslaan en hy is ook met sy eie haelgeweer geslaan.”
Bateman sê die eenheid is deur die polisie vir hulp genader en byna elke hofsitting is bygewoon.
‘n Deskudige het beeldmateriaal wat deur die eenheid bekom is – ‘n video, sowel as selfoonvideo’s geanaliseer. Klere en identifiseerbare merkers is gebruik om individue se bewegings van die dag vas te stel. Daar is uitgepluis hoe hulle die dag van die moorde by die misdade betrokke was. Die getuienis en verklarings wat die beskuldigdes by die moord betrek, kon by die dossier ingesluit word.
“Regter Mathunzi het die getuienis van die beskuldigdes verwerp en hulle weergawe van die gebeure beskryf as niks meer as duimsuiery en ’n nagedagte nie. Die hof het bevind dat die beskuldigdes deel was van ’n groep wat met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe die veiligheidswagte aangeval is en dat hulle bedoel het om Tegg en Cassanga te vermoor. Mathunzi het bevind dat die staat se getuienis geloofwaardig en betroubaar was, wat forensiese analise van die beeldmateriaal insluit wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid bekom het.”
Bateman bedank kapt. Robert Seckle en adv. Matthews Rampyadi vir die suksesvolle afhandeling van die saak.
Die skuldigbevinding het ook vir Michele Bebbington, Tegg se verloofde, verligting gebring. Bebbington sê sy is bly oor die skuldigbevinding en waardeer Gerrie Nel en sy span wat bystand verleen het en aan haar sy was.
“Lewenslange gevangenisstraf staar Shokane en Duumba in die gesig.”

Andrew Leask – AfriForum Privaatvervolgingseenheid hoof-ondersoeker, kapt. Robert Seckle – SAPD, Michele Bebington en adv. Matthews Rampyapedi – staatsaanklaer




