GAUTENG. – Raymond Nkosinathi Mzizi, ’n voormalige Johannesburg-metropolisiebeampte (JMPD), is deur die Lenasia-landdroshof op drie aanklagte van strafbare manslag tot ses jaar tronkstraf gevonnis ná drie persone tydens ‘n ongeluk omgekom het.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Mzizi het omstreeks 18:00 op die betrokke aand in Junie 2018 ‘n staatsvoertuig op die Golden Highway bestuur toe hy met ‘n Toyota Corolla en ’n Siyaya-minibustaxi gebots het. Daar was vyf insittendes in die Toyota Corolla – ’n pa, sy drie dogters en een kleinkind. Twee van die dogters en die kleinkind is op die toneel dood verklaar. Die pa en een dogter is vir mediese behandeling na die Baragwanath-hospitaal geneem.
Mzizi is op die toneel in hegtenis geneem en van strafbare manslag, dronkbestuur en die bestuur van ’n staatsvoertuig sonder magtiging aangekla. Die ondersoek is in 2019 afgehandel en die saak is op die hofrol van die Protea-landdroshof vir verhoor geplaas.
Mzizi is op drie aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind en tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is verder vir die bestuur van ‘n staatsvoertuig sonder magtiging tot 12 maande tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Mzizi is op die aanklag van dronkbestuur vrygespreek.