WES-KAAP. – Die Bellville- kommersiële misdaadhof het Pieter Jacobus Adams (58) skuldig bevind aan 435 aanklagte van bedrog en direkte tronkstraf van 10 jaar, waarvan ses jaar vir vyf jaar opgeskort is, opgelê. Boonop is ‘n bevel toegestaan om op sy volle pensioen beslag te lê en dit aan die Bergrivier-munispaliteit oor te betaal.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die hof het die konfiskering van die pensioen van die voormalige hoofklerk vir kredietbeheer by die Bergrivier-munisipaliteit bekragtig. Adams was in dié posisie sedert 1 Julie 2002 totdat hy op 25 November 2019 bedank het.
Volgens die staat het die munisipaliteit op 19 September 2019 ontdek die beskuldigde se voorafbetaalde elektrisiteitsmeter was vervang en na ‘n tarief vir behoeftiges verander en hy het dit nie by sy direkte bestuurder aangemeld nie. ‘n Interne ondersoek het bevind die beskuldigde het van Maart 2016 tot September 2019 gratis elektrisiteitsbewyse op voorafbetaalde meters, wat nie vervang is nie, uitgereik. Voorts is onthul gratis elektrisiteitsbewyse is maandeliks tydens en buite normale kantoorure aan dieselfde voorafbetaalde meters uitgereik. Op sommige van die voorafbetaalde meters is aansienlike hoeveelhede elektrisiteitseenhede gelaai vir individue wat vir ‘n lang tyd nie elektrisiteit by die munisipaliteit gekoop het nie. Geen stawende dokumente kon gevind word vir die vervangde meters of vir die uitreiking van gratis elektrisiteitsbewyse wat deur die rekening gegenereer is nie.
Die staat het ter verswaring van die vonnis aangevoer die beskuldigde het sy vertrouensposisie misbruik en voordele vir sy eie doel aangewend, wat tot ‘n verlies van R1 310 507.40 vir die munisipaliteit gelei het. As gevolg van die verlies moes befondsing van ander diensleweringsitems gevat word, wat die diens aan die publiek benadeel het.





