VRYSTAAT – ’n Vroulike verdagte (42) wat aan die finansiële departement van die polisie op Ficksburg verbonde was, is vir bedrog in hegtenis geneem.
A.o. Lynda Steyn, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is Vrydag deur die polisie se taktiese reaksiespan op Riverside in Qwa-Qwa gearresteer.
Die verdagte se pligte was onder meer om geld van die publiek te ontvang vir die hernuwing van vuurwapenlisensies.
Steyn sê sy het haarself na bewering onwettiglik met ’n bedrag van meer as R100 000 verryk. Sy het glo bedrieglike kwitansies geskep wat nie op die Polfin-stelsel opgespoor kon word nie.
Die verdagte gaan binnekort in die Ficksburg-landdroshof verskyn, volgens Steyn.