LIMPOPO. – Hezekiel Mailula Maimela (45) is op 30 Junie 2022 met R350 000 se onwettige sigarette in sy privaat voertuig deur blitspatrollielede vasgetrek. Maimela is vier jaar tronkstraf of ‘n boete van R200 000 opgelê.
Kol. Malesela Ledwaba sê Maimela, wat by die Beitbrug-grenspos gestasioneer was, het met sy blou Toyota Hilux-bakkie gery toe Limpopo-blitspatrollielede hom tydens voertuigpatrollie gestop en die voertuig deursoek het. Die onwettige sigarette is in die voertuig gevind. Maimela is in hegtenis geneem en die sigarette en sy voertuig is gekonfiskeer.
Sers. David Mangena het die saak ondersoek. Maimela is op R1 000 borg vrygelaat, waarna die saak na die batebeslagleggingseenheid verwys is. ‘n Bevel is toegestaan om Maimela se voertuig aan die staat verbeurd te verklaar.
Ledwaba sê tydens vonnisoplegging is die beskuldigde die opsie gegee om R80 000 kontant te betaal en die res teen R10 000 ‘n maand oor ‘n tydperk van ‘n jaar.




