LIMPOPO. – ‘n Voormalige polisievrou (54) is gedurende Mei 2023 uit R500 000 bedrieg nadat sy omgepraat is om te bedank. Joseph Hassan Yaye (44), ‘n Kongolese burger, het Woensdag in die Makhado-landdroshof verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba sê die saak van bedrog en diefstal is tot 30 Mei uitgestel. Yaye bly in aanhouding.
Na bewering het Yaye en ‘n makker die polisievrou omgepraat om uit die polisie te bedank en haar geld in ‘n sakeonderneming te belê. Sy het bedank en nadat sy geld ontvang het, glo R500 000 onttrek en aan Yaye oorhandig. Sy het ook na bewering nog ‘n bedrag geld in Yaye se bankrekening oorgeplaas. Hy het glo daarop met haar geld verdwyn.
Die voormalige polisievrou het in Julie 2023 ‘n saak van bedrog en diefstal oopgemaak.
Enigiemand wat inligting oor Yaye se makker het, word versoek om AO Corlet Baloyi by 072 160 5396 te bel.





