KWAZULU-NATAL. – Mbongeni Skhakhane (50), African Farmers’ Association KZN-voorsitter van Pietermaritzburg, is op 26 Desember by sy huis tydens ‘n roof doodgeskiet.
Luidens ‘n verklaring van AFASA is die boeregemeenskap geskok oor die wrede moord. Skhakhane was ’n gerespekteerde leier wat jare lank as AFASA-voorsitter opkomende boere ondersteun het. Hy was ook lid van die AFASA Nasionale Uitvoerende Komitee, waar hy strategieë ontwikkel het om boerdery regoor Suid‑Afrika te bevorder.
AFASA het die moord veroordeel en ‘n beroep op die polisie gedoen om die skuldiges vinnig aan die pen te laat ry. Die organisasie beklemtoon dat boeremoord ’n nasionale krisis is wat dringend aandag verg, veral omdat opkomende en swart boere kwesbaar is. Hulle doen ‘n beroep op verhoogde polisie‑teenwoordigheid, spesiale landelike veiligheidseenhede en ’n nasionale plan om moord op boere te voorkom.
Mthembu, AFASA-president, en die nasionale uitvoerende vergadering het meegevoel uitgespreek en ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan in rou en in die eis vir geregtigheid.
Druk hier om meer te lees.
Lt.kol. Paul Magwaza sê aan Nuusflits ‘n man is tydens ‘n huisroof in Sweetwaters doodgeskiet. Hilton-polisiekantoor ondersoek ‘n saak van moord en huisroof. Die man is glo buite sy woning deur vier verdagtes met ‘n vuurwapen gekonfronteer. Hy is met geweld die huis in gedwing waar ander familielede teenwoordig was. Die man is twee keer geskiet, waarna die verdagtes glo waardevolle items uit die huis geneem en daarna met die oorledene se voertuig van die toneel gevlug het. Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.






