WES-KAAP. – ‘n Vragmotorbestuurder (43) is Maandag gearresteer nadat hy glo met ‘n besending dagga van ongeveer R1.7 m. op die N1 by Laingsburg onderskep is.
Sers. Christopher Spies sê die vragmotor is omstreeks 23:30 onderweg na Kaapstad by ‘n voertuigbeheerpunt (VCP) afgetrek en deursoek. Ses sakke dagga is gevind, waarop die polisie beslag gelê het. Die bestuurder is vir handel in dwelmmiddels gearresteer.
Die verdagte sal vandag (Woensdag) in die hof verskyn.






