WES-KAAP. – Voorvalle van “vreemde voowerpe” is in pakke skyfies en ander voedselverpakkings in Groot-Brakrivier en Friemersheim in die Tuinroete aangemeld.
Andrew Stroebel, die uitvoerende burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM), sê in ‘n verklaring die munisipaliteit, SAPD, plaaslike munisipale wetstoepassing en ander rolspelers is bewus van die insidente. ‘n Ondersoek is onderweg om die feite te bepaal. Die SAPD het die GRDM oor die voorvalle ingelig nadat dit by Groot-Brakrivier-polisiestasie aangemeld is.
“Die GRDM is toegewyd en verantwoordelik om te verseker dat voedsel wat aan die publiek verkoop word, veilig is vir verbruik. Ons kan die publiek verseker dat ons hierdie saak met die grootste erns beskou en onmiddellik alle amptenare ten volle bewus gemaak het van die situasie. Die publiek se veiligheid in terme van gesondheid is ’n prioriteit,” sê Stroebel.
Operasies word weekliks by verskeie informele kosverkopers gedoen, waarvan een vir vandag geskeduleer is. Rolspelers sluit die polisie, plaaslike munisipale wetstoepassing en die departement van binnelandse sake in.
“Verdere inligting oor die voorval sal in ‘n later stadium bekend gemaak word.”
Rapporteer enige insidente van vervalste of kos waarmee gepeuter is aan Johan Compion by 082 803 5161, Desmond Paulse (Klein Karoo) by 083 678 6530, Rinay Cloete (Mosselbaai) by 083 630 6108, Emmy Douglas (George, Outeniqua) by 078 457 2824, Jessica Erasmus (George, Wildernis) by 081 346 3118, James McCarthy (Knysna Lakes) by 082 805 9417, Gawie Vos by 083 557 1522 (Bitou Lakes) en Haemish Heuwels (Hessequa, Langeberg) by 083 678 6545.
Volgens die verklaring is die foto van ‘n pak skyfies verskaf en deur omgewingsgesondheidspraktisyns geverifieer.

Foto: Nadine Siwa Facebook – Noord-Kaap