Yolande Maritz, ‘n vroedvrou wat glo onprofessioneel opgetree het, is gedagvaar om in die hof te verskyn. Sy moet op 24 Julie op aanklag van onder meer aanranding in die hof verskyn.
‘n Babaseun is nege dae na sy geboorte oorlede en ‘n babadogter is gestremd gelaat.
Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê Maritz is reeds in 2021 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging aan nalatige en onprofessionele optrede skuldig bevind. Haar registrasie as vroedvrou is gekanselleer toe daar bevind is Maritz se pasiënte het nie die mediese hulp ontvang wat hulle nodig gehad het nie. Sy moes hulp ontbied het. Maritz het ook medikasie aan pasiënte verskaf, wat sy nie gemagtig was om te doen nie. Maritz het appèl aangeteken, wat van die hand gewys is.
Maritz het na bewering dosisse van Cytotec oorskry. Bateman sê die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die twee ouerpare.
Carien en Jaco Möller se dogtertjie is gestremd gelaat. Maritz het glo twee Cytotec-tablette op ‘n slag vir Möller gegee. Sy het erge kontraksies gekry en haar baba het tydens geboorte in skok gegaan.
Alysia en Brendon von Kloëg het tydens ‘n sonar op 24 weke abnormaliteite met hul baba raakgesien en dit vir Maritz gesê, wat glo geïgnoreer is. Sy het na bewering ook ‘n kalmeerpil aan Von Kloëg gegee. Von Kloëg het ongeveer ‘n uur later geboorte gegee. Die Von Kloëg-babaseun is nege dae na sy geboorte, oorlede.
Strafregtelike klagtes is in 2020 en 2022 deur die ouerpare teen Maritz aanhangig gemaak. Die spesiale ondersoekeenheid het in Januarie vanjaar ‘n skrywe aan die NVG gerig, waarna die sake wat deur die ouerpare gemaak is, na ‘n spesiale ondersoekeenheid verwys is.
“Vir ’n jaar en ’n half lank het die privaatvervolgingseenheid hulself daaraan toegewy om vir Carien en Alysia te ondersteun in hul soeke na geregtigheid en om te verseker dat Maritz vir haar optrede aanspreeklik gehou word. Ons is verlig dat die saak nou op die rol geplaas is, maar dit moes nie so lank gevat het nie. In Februarie vanjaar, toe die saak steeds nie op die rol geplaas is nie, het die privaatvervolgingseenheid die NVG ingelig dat hulle versuim om Maritz te vervolg en inderwaarheid aan haar die geleentheid gegee het om voort te gaan met haar aktiwiteite, wat nóg skade aan swanger vroue kon aanrig.”

Alysia Von Kloëg en Yolande Maritz, foto: AfriForum

Von Kloëg-egpaar, foto: AfriForum
Bron: AfriForum





