‘n Vrou is in die vroeë oggendure van Saterdag 3 Junie 2023 aan rookinaseming dood nadat ‘n huis in Driezek, naby Orange Farm in Gauteng aan die brand geraak het.
Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir nooddienste van Johannesburg (City Of Joburg EMS), sê in ‘n verklaring hulle is na ‘n brandende huis ontbied.
Buiten die vrou wat oorlede is, is nog ‘n volwassene en ‘n kleuter na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Na bewering het die vrou aan die slaap geraak nadat sy ‘n tweeplaatstofie aangeskakel het om warm te kry.
“Voorlopige ondersoeke wat deur brandveiligheidsbeamptes gedoen is, het die tweeplaatstofie as die oorsaak van brand bevestig.”
Radebe-Kgiba sê dit is gedurende hierdie seisoen wat ‘n toename in huise wat brand en ‘n hoë aantal sterftes as gevolg van verkeerde verhittingtoestelle aangemeld word.
“Aangesien temperature aanhou daal, word inwoners versoek om verhittingstoestelle korrek te gebruik en nooit verwarmers en stowe sonder toesig te laat nie.”