KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou (21) is tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat sy deur die Mtubatuba-streekhof aan moord op haar pasgebore baba skuldig bevind is. Die babaseun se liggaam is in ‘n puttoilet ontdek.
Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het in Augustus 2024 in die Hluhluwe-omgewing plaasgevind. Die swanger beskuldigde het die puttoilet op die betrokke dag verskeie kere besoek. Haar ma het opgemerk dat sy bloei en het gevra of alles reg is, maar die beskuldigde het haar ma se bekommernis as niks afgemaak. Haar ma het toe gereël dat sy hospitaal toe geneem word.
Terwyl die beskuldigde in die hospitaal was, het familielede geluide vanaf die puttoilet gehoor, maar aanvaar dit was een van die troeteldiere. Die hospitaal het later die familie gekontak om die huis te deursoek, aangesien die vrou se baba nie by die hospitaal was nie. Die familie het die puttoilet afgebreek en die baba binne gevind.
‘n Patoloog het bevestig dat die baba na ‘n volle swangerskap gebore was en geleef het voordat hy in die toilet gegooi is. Die hof het van die minimumstraf van lewenslange gevangenisstraf afgewyk en die ouderdom van die beskuldigde en die feit dat sy ’n minderjarige kind het, in ag geneem.
Volgens Ramkisson-Kara hoop die nasionale vervolgingsgesag dat vonnisse van hierdie aard mense met soortgelyke motiewe sal afskrik.





