OOS-KAAP. – Yvonne Brouwers (29) is in die Nxuba-streekshof (voorheen Cradock) vir haar misdade gevonnis nadat sy in 2023 vir Thembisile Mondo doodgesteek en in 2024, terwyl sy op borg was, haar stiefma Nontsokolo Mthathi met ‘n beker geslaan het, wat tot haar dood gelei het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Luxolo Tyali, het bevestig dat Brouwers tien jaar effektief vir die moord op Mondo en ses jaar vir die strafbare manslag op Mthathi opgelê is, met die vonisse wat gelyktydig uitgedien sal word.
Brouwer het aan die hof voorgehou sy het op 1 Februarie 2023 vir Mondo by sy huis gekonfronteer omdat hy glo haar kind geklap het. Die konfrontasie het vererger, waarna Mondo glo ‘n mes te voorskyn gebring het om haar te steek. Sy het die mes afgeneem en Mondo een keer noodlottig gesteek. Bouwer het die insident aan die bure vertel, maar sy is nie dadelik geglo of die owerhede in kennis gestel nie. Mondo se liggaam is die volgende dag ontdek en Brouwers is in hegtenis geneem. Sy het die steekinsident bevestig.
Op 25 Februarie het Brouwers haar stiefma, Nontsokolo Mthathi, tydens ‘n argument met ‘n beker oor die kop geslaan. Mthathi is aanvanklik in die hospitaal behandel, maar het later weens komplikasies, veroorsaak deur interne bloeding in haar skedel, beswyk.
Makabongwe Seyibokse, die staatsaanklaer, het tydens vonnisoplegging gesê ondanks Brouwers se skulderkenning moet die erns en brutaliteit van die misdade in ag geneem word.
Barry Madolo, die direkteur vir openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom.





