OOS-KAAP. – ‘n Vroulike verdagte (36) is Saterdag in Oos-Londen vir die beweerde besit van dwelms met ‘n straatwaarde van meer as R3 m. in hegtenis geneem.
Kapt. Hazel Mqala sê blitspatrollielede het inligting ontvang van ‘n onbekende vrou wat van Bloemfontein na Oos-Londen, vermoedelik met dwelms in haar besit, per bus op pad is.
Die bus is opgemerk en tot by die busstasie by die Windmill-padkafee gevolg waar ‘n vroulike passasier uitgewys is. Toestemming is verkry om haar sak te deursoek. Tik en kristalmetamfetamien wat 20.5 kg weeg, met ‘n straatwaarde van meer as R3 m., is deur die polisie gekonfiskeer.
Die verdagte is vir handel in dwelms in hegtenis geneem en verskyn vandag in die Oos-Londen-landdroshof.





