GAUTENG. – Gregory Kleynhans het meer as ’n jaar gelede glo vir Helena Fairlie met ‘n skroewedraaier aangeval en het daarna op die vlug geslaan. Fairlie het nou AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir hulp genader nadat sy eers self probeer het om hom op te spoor.
Luidens ‘n verklaring deur Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, het die polisie volgens Fairlie min belangstelling in die saak getoon en verskeie leidrade oor Kleynhans se moontlike ligging geïgnoreer. “Ek moes self die saak op sosiale media plaas om hom op te spoor,” sê sy.
Die beweerde aanval het op 6 Desember 2022 in Centurion plaasgevind. Kleynhans het haar glo probeer ontvoer en verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek. Hy is kort daarna in hegtenis geneem, maar volgens Fairlie die volgende dag weer vrygelaat. Hy het nie opgedaag vir sy verhoor in Oktober 2024 nie, waarna ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.
Bateman sê die geval is nog ’n voorbeeld van die staat se versuim om geslagsgebaseerde geweld ernstig te hanteer. Advokaat Gerrie Nel sê die saak wys op die “lippediens” wat die owerhede lewer aan hul verbintenis om geslagsgebaseerde geweld te prioritiseer.
Die beskuldigde se volle naam is Gregory Derick Kleynhans, maar hy gebruik die voornaam Gregg. Hy staan ook bekend as Gregg Wexler en bly moontlik by familielede in Brakpan, Hartbeespoort of Mokopane. Die eenheid het foto’s van Kleynhans beskikbaar gestel en enigiemand met inligting oor waar hy hom bevind, word versoek om die eenheid per e-pos te kontak by [email protected].
Druk hier om meer te lees.





