GEORGE. – ’n Vrou (34) is Saterdag deur die Valke vir haar beweerde betrokkenheid by mensehandel in George in hegtenis geneem.
Haar arrestasie volg nadat die Valke Woensdag 13 Desember inligting ontvang het oor drie jong meisies wat na bewering ’n paar maande gelede vanaf Wes-Afrika na Suid-Afrika binne skeepshouers vervoer is. Vervalste paspoorte is glo aan hulle verskaf.
Verdere inligting het aangedui die meisies is glo op ’n aanlyn webtuiste vir metgeselle geadverteer en in ’n residensiële kompleks in George aangehou.
Die Ondersoekspan vir Ernstige Georganiseerde Misdaad het die inligting ontleed en ’n klopjag op die huis uitgevoer.
Vier vroue wat vermoedelik slagoffers van mensehandel was, is in die huis aangetref. Hulle is na ’n plek van veiligheid geneem en vir mediese ondersoeke gestuur.
Die verdagte, wat na bewering ’n versorger by die kompleks was, is in hegtenis geneem en verskyn vandag in George se landdroshof.
Bronne: SAPD, Twitter





