KARIBIB, NAMIBIË. – ’n Vrou (27) is Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat die liggaam van haar sussie (17) met ’n steekwond in hulle huis in Karibib, Namibië aangetref is.
Volgens adj.kom. Kauna Shikwambi, nasionale polisiewoordvoerder, is hulle deur Wander Raullinda Gases se ma ontbied nadat die skool laat weet het dat die tiener nie vir haar eksamen opgedaag het nie. Gases en die verdagte het dieselfde pa.
By die huis waar die sussies gewoon het, het die polisie geslote deure aangetref. Hulle moes ’n venster oopbreek en het ’n video van die binnekant van die huis gemaak.
Gases se liggaam is in ’n gang aangetref wat na ’n slaapkamer lei. ’n Silwer kombuismes het steeds in haar bors vasgesteek. Volgens Shikwambi was die aangrensende kamer deurmekaar, wat op ’n fisiese geveg kan dui.
Die twee sussies se broer het aan polisie vertel dat hy niks vreemd tussen die twee sussies opgemerk het toe hy hulle om middernag laas gesien het nie.
Die verdagte is ná ’n wenk vanaf die gemeenskap in hegtenis geneem. Geen motief kon nog vir die moord vasgestel word nie.
Bronne: AfroPages, Informanté, New Era Newspaper





