Brekende Nuus
Afrikaans

Vrou kritiek beseer toe hond haar aanval

'n Vrou van KZN is kritiek beseer nadat 'n hond haar aangeval het.

Vrou kritiek na hond haar byt
Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. ‘n Vrou in haar 30’s het kritieke beserings opgedoen toe ‘n Belgiese Malinois-hond haar Dinsdag in Daisystraat in Malvern, wes van Durban, aangeval en gebyt het.

Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê hulle het net na 15:00 berig ontvang van ‘n vrou wat deur ‘n hond gebyt is.

Jamieson sê die vrou is waarskynlik aangeval toe sy die perseel verlaat het. Sy het verskeie bytmerke aan haar liggaam en is kritiek beseer.

Die beseerde vrou is deur lewensondersteunende paramedici gestabiliseer voordat sy met haas na die Ahmed Al Khadi- privaat hospitaal geneem is. ‘n Traumaspan het op haar ingewag.

Die SAPD, Metropolisie en DBV was teenwoordig en sal die omstandighede van die aanval ondersoek.

Bron: ALS Paramedics